1 Henog

Papyrus Chester Beatty XII, ’n 4de-eeuse uittreksel uit die Boek van Henog, in Grieks.
’n Uittreksel uit 1 Henog, in Aramees.

1 Henog, of die Boek van Henog (Ge'ez: መጽሐፈ ሄኖክ, maṣḥafa hēnok), is ’n antieke Hebreeuse godsdiensteks wat volgens tradisie deur Henog, die oupagrootjie van Noag, geskryf is.[1][2] 1 Henog bevat unieke materiaal oor die oorsprong van demone en reuse, die val van sekere engele, ’n verduideliking van hoekom die sondvloed moreel noodsaaklik was, en ’n profetiese uiteensetting van die 1 000 jaar lange heerskappy van die Messias.

Die oudste dele van die teks (veral in die Boek van die Wagters) kom na raming uit omstreeks 300-200 v.C., en die jongste deel (die Boek van Gelykenisse) moontlik uit 100 v.C.[3]

Verskeie Aramese fragmente wat in die Dooie See-rolle gevind is, asook Koine-Griekse en Latynse fragmente, het bewys die Boek van Henog was bekend onder die vroeë Jode en Christene. Die boek is ook aangehaal deur sommige 1ste- en 2de-eeuse skrywers, soos in die Testamente van die Twaalf Stamvaders. Skrywers van die Nuwe Testament het ook van die inhoud geken.[4] ’n Klein deel van 1 Henog (1:9) word in die Nuwe Testament aangehaal, in Judas 1:14-15, en word daar toegeskryf aan "Henog, wat van die sewende geslag ná Adam was" (1 Henog 60:8), hoewel hierdie deel van 1 Henog ’n midrasj van Deuteronomium 33:2 is. Verskeie eksemplare van die vroeë dele van 1 Henog is onder die Dooie See-rolle ontdek.[2]

Dit is nie deel van die Bybelse kanon wat deur Jode gebruik word nie, buiten Beta Israel (Ethiopiese Jode). Die meeste Christelike denominasies en tradisies aanvaar dat 1 Henog ’n mate van historiese of teologiese belang het, maar beskou dit nie as deel van die Bybelse kanon nie.

Dit het net in Ge'ez volledig behoue gebly. Daar is ook Aramese fragmente onder die Dooie See-rolle en ’n paar Koine en Latynse fragmente. Die algemene Ethiopiese sienswyse is dat dit oorspronklik in Ge'ez geskryf is, terwyl moderne geleerdes meen dit is eers in óf Aramees óf Hebreeus geskryf; Ephraim Isaac stel voor die boek is, nes Daniël, deels in Aramees en deels in Hebreeus geskryf.[5] Geen Hebreeuse weergawe het sover bekend behoue gebly nie.

Daar word in die boek self beweer dat dit deur Henog geskryf is, voor die sondvloed.

  1. Barker, Margaret. (2005) [1987]. "Chapter 1: The Book of Enoch," in The Older Testament: The Survival of Themes from the Ancient Royal Cult in Sectarian Judaism and Early Christianity. London: SPCK; Sheffield Phoenix Press. ISBN 978-1905048199
  2. 2,0 2,1 Barker, Margaret. (2005) [1998]. The Lost Prophet: The Book of Enoch and Its Influence on Christianity. Londen: SPCK; Sheffield Phoenix Press. ISBN 978-1905048182
  3. Fahlbusch, E.; Bromiley, G.W. The Encyclopedia of Christianity: P–Sh p. 411, ISBN 0-8028-2416-1 (2004)
  4. Cheyne en Black, Encyclopaedia Biblica (1899), "Apocalyptic Literature" (column 220).
  5. Ephraim Isaac, 1 Enoch: A New Translation and Introduction in James Charlesworth (red.) The Old Testament Pseudoepigrapha, vol. 1, pp. 5-89 (New York, Doubleday, 1983, ISBN 0-385-09630-5)

Developed by StudentB